In 2008 het Tino en sy ouers van Zimbabwe na Suid-Afrika verhuis. Op daardie stadium was hy ‘n jong 6-jarige seuntjie. Sy familie vestig hulle in Swellendam en dit is ook hier waar Tino sy kinderjare deurbring.
Gedurende sy hoërskooljare het sy lewe om rugby en akademie gedraai en het hy altyd geglo dat hy, soos sy oupa, ‘n boer op ‘n tabakplaas in Zimbabwe sou word. Sy harde werk en uitstekende akademiese prestasies by Oakdale Hoër Landbouskool verseker hom ‘n volle beurs van Klein Karoo Saad Produksies.
Op die ouderdom van 19 het hy vir die eerste keer ‘n kitaar opgetel. “Ek het nie regtig gesing op daardie tydstip nie, ek het net saam met die ritme geneurie,” sê hy.
Min het hy geweet dat dit die begin van Tino se (wie se moedertaal Shona is) Afrikaanse musiekloopbaan sou wees. Al was ‘n loopbaan in musiek nie deel van sy beplanning nie, het hy onmiddellik ‘n nuwe tuiste tussen die wysies en die woorde gevind.
Tino besef gou dat musiek ‘n ander manier bied om emosie uit te druk. Die verlange na sy vriende in Zimbabwe gee aanleiding tot sy eerste enkelsnit, AFSTAND, wat hy saam met sy vriend Dieter Sullwald skryf.
Hy neem die besluit om die lied professioneel te laat vervaardig en dit beland in die hande van die bekende vervaardiger, Tertius Human. En die res is, soos hulle sê, geskiedenis.
Tino beskryf die proses as magies. Binne ‘n kwessie van ‘n week het een lied in 10 verander en so is ‘n hele album vervaardig – STERREKIND.
Vandag is Tino trots op wat sy musiek vir ander mense beteken. In sy nederigheid prys hy die Here vir die ontvangs wat sy musiek op die radio en onder die publiek geniet.
Sy musiek word tans deur sommige van ons land se grootste radiostasies gespeel en pryk op talle top 10-trefferparades. Een van sy hoogtepunte is die nommer 1-posisie wat sy lied AFSTAND op RSG behaal het. “Dis hierdie dinge wat my inspireer om meer musiek te skryf,” verduidelik die jong kunstenaar van 21.
Tino is dankbaar vir sy familie wat hom ondersteun al kan hulle nie enige van die Afrikaanse lirieke verstaan nie. “Al die Afrikaanse lirieke wat my ma ken, is dié van Transkaroo,” grap hy.
Tino se fokus is tans op sy landboustudies. Hy speel ook rugby vir die o/20-span by die Universiteit van Stellenbosch.
As jy hom vra wat sy raad aan ander is, is sy antwoord sonder huiwering: “Moet nie wag dat iets goeds na jou toe kom nie. As jy ‘n musikant wil wees wat kitaar speel, moet jy net die kitaar optel en begin speel.”
PUBLISITEIT & BEMARKING:
Vonk Musiek
Kyra Grobler
Sel: 072 107 0069
E-pos: kyra@vonkmusiek.co.za
E-pos: pr@vonk.co.za
PLATEMAATSKAPPY:
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel: 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos: francois@vonkmusiek.co.za
Webwerf: www.vonkmusiek.co.za